![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Breyten Breytenbach - 2011-02-28 Nou, juis nou wanneer diversiteit en veelduidigheid en veelvuldigheid bevorder moet word ter wille van die behoud en groei van Afrikaans – want die taal as prototipe en lewende produk van Suid-Afrikaansheid sal slegs funksioneel oorleef solank sy die draer kan bly van die uiteenlopendhede en die geskiedenisse en al die vergestaltings en versugtinge van haar sprekers en lesers – kom Media24 met hulle bykans monopolistiese beheer oor publikasies in Afrikaans en besluit dat die keuse van boeke wat “oopgemaak” gaan word vir ’n leserspubliek, en hóé, voortaan aan één tsaar (of tsarin) toevertrou moet word. Nou, juis nou dat ’n duisend blomme behoort te bloei kom die patriarg, oftewel die goedbedoelende sensor, en stel één tuinier aan met, uiteraard, sy of haar sienings van die doel en betekenis van tuine en van kleurrangskikkings. Daar is niks verkeerd met die verskillende aanvullende invalshoeke van die huidige boekeblaaie nie. Natuurlik kan dit verbeter word, kan daar nog méér ruimte afgestaan word aan die kontraste en die nuanses van hoe mense boeke benader, kan nog meer gedoen word om waardering te kweek vir die eksistensiële asemhaling van literatuur. Maar wat daar tans is, is reeds prysenswaardig. En nou kom die oubaas met die dwase idee om alles te wil sentraliseer. Vir wat? Om van die stoep af ’n ogie te kan hou oor al sy lewende hawe? Het die baas één toesighouer nodig sodat hy nie gepla hoef te word deur die volk se gejil nie? Of is dit sommer net ’n dom boekhouersbesluit? Sodat net een salaris betaal hoef te word? Ek dog dan juis ons onderskryf almal die mantra van “werkskepping”! Of is die baas benoud dat die Chinese gans dalk hardlywig kan begin word? Hoe dit ook sy, hierdie dom besluit bewys dat Media24 niks weet van die aard en die funksie van literatuur en die skeppende wisselwerking via resepsie en “lesing” tussen lesers en resensente en skrywers nie. En dalk ook nie belangstel nie. Bonjour, messieurs les censeurs! Maar dan moet hulle nie verbaas wees as skrywers aksies van stapel laat loop, soos byvoorbeeld deur te vra dat Media24 geboikot word nie.
<< Terug na die “Een boekeredakteur“-miniseminaar <<
|